Elrien Scheepers is op ’n wintersnag in Mei 1962 op Middelburg, Kaap in die Karoo gebore. Sy is die oudste van vier kinders en het meestal in Port Elizabeth grootgeword. Sy het baie naweke roomys by die Red Windmill by Humewoodstrand geëet, en in die rotspoele na anemone en seekrappe gesoek. Sy was ’n baie pligsgetroue skoolkind, maar het nie juis uitgeblink as hokkiespeler of atleet nie.
Na skool gaan sy Pretoria om Entomologie en toe Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria te studeer. Sy het vyf jaar as kleindierveearts gepraktiseer, en is in 1997 as ’n dosent aan die Universiteit van Pretoria aangestel, waar sy veeartse en veeartsenykundige verpleegsters onderrig het en in Mei 2023 afgetree het. Sy bly nou in Kleinmond.
Sy woon in ’n huis naby die see saam met drie chihuahuas. Sy luister graag na musiek, lees storieboeke en hou van skottelgoedwas en haar kaggelvuur. Haar gunsteling tienerboekskrywers is David Almond en Marcus Sedgwick. Sy het ’n matelose bewondering vir Ingrid Winterbach se werk en lees ook graag al Chris Karsten en Irma Venter se boeke. Haar idee van hemel op aarde is om lang ente langs die see te loop, selfs as dit grys en koud en die see onstuimig is. Sy skryf nie wanneer sy lus is nie, maar wanneer sy moet.
Haar eerste publikasie was die gedig Ek droom oor jou, gepubliseer in Toulopers (LAPA-Uitgewers), in 2010. Daarna het verskeie kinderstories en -gedigte gepubliseer in die skole- en kommersiële markte. In 2017 was sy die naaswenner in die Nasionale Bloemfonteinse Skrywersvereniging-skryfwedstryd se poësie afdeling, met die gedig Genadeloos, een van net nog twee gedigte wat sy vir volwassenes geskryf het.
Dit het haar ’n jaar geneem om Donkerbloed, haar debuutroman wat in Junie 2021 gepubliseer het, te skryf. Nie net wens sy dat sy soos Margaret Atwood kon skryf nie, maar die geneties gemodifiseerde varke (“pigoons”) in Oryx and Crake, was die klein vonk waaruit haar eerste jeugroman ontstaan het. Sy het baie laat in haar lewe begin wetenskapsfiksie lees, en is van plan om nog vir jare wetenskapsfiksie vir jong volwassenes te skryf. Haar tweede jeugroman, Waar jakkalse huil, publiseer in Mei 2023.
Donkerbloed was in 2022 op die kortlys vir die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Scheepersprys vir Jeugliteratuur, saam met Fanie Viljoen (die wenner) en Jan Vermeulen. Waar jakkalse huil word in 2025 ook genomineer vir die Scheepersprys vir Jeugliteratuur, saam met vyf ander jeugboeke.