Gedigte
Toulopers
Die gedigte in Toulopers is geskryf met tieners van 13 tot 15 jaar in gedagte. Van ernstiger temas tot glimlagverse, van rebelse gedigte tot dolverliefde SMS-poësie – al die bydraes in hierdie bundel is met een doel voor oë gekies: om tot moderne tieners se leefwêreld te spreek.
Die gedig Ek droom oor jou word ingesluit.
LAPA Uitgewers, 2010
Sterkykers
Skryf ’n liefdesbrief. Bemeester die kuns van hande vashou. Vuisstamp die lewe voluit. Lag soos die mense in advertensies. Raak onsigbaar. Twiet vir iemand ’n vers. Hierdie bundel vars, verrassende, vuishou-op-die-maag-gedigte vir tieners bou voort op die suksesvolle Toulopers. Dit is ’n opwindende digbundel wat spesiaal saamgestel is om hedendaagse jongmense se leefwêreld te weerspieël.
Drie gedigte, nl. Biologieklas, Ysland en ’n Flouerige maan word ingesluit.
LAPA Uitgewers, 2015
Jeugromans
Donkerbloed
Dit is die jaar 2045 in die stad Etswagoli. Sybella Francke ondersoek die raaisel rondom haar ma en suster se dood in ’n lugtaxi-ongeluk wanneer haar pad kruis met Yala, ’n onwettige hokvegter. Maar waarom is die kuborg, Cedric Morton, op haar spoor en wat is sy verbintenis met Lilith Rox, die direkteur van Biotron Babas, ’n maatskappy wat geneties gemodifiseerde babas verskaf aan die ryk elite? Haar vriend Jax is veronderstel om haar te help, maar skielik verdwyn hy spoorloos . . . Die polisie stel lankal nie meer belang om uit te vind wat regtig daardie middag gebeur het nie. Maar Sybella móét net weet. Wanneer sy Lilith Rox se werksaanbod aanvaar, raak sy betrokke by nóg donker geheime. Watter prys sal sy vir die waarheid moet betaal?
Human & Rousseau, 2021
Waar jakkalse huil
Waar jakkalse huil is ’n wetenskapsfiksie-verhaal wat gedurende die winter van 2055 in die Klein-Karoo en Kaapstad afspeel. Die agtienjarige Laela Nix, ’n valkenier, se ouers word deur die gevreesde Genmod regering vermoor. Sy slaan op die vlug, bedreig deur geneties gemodifiseerde regeringspatrollies en kuborgsoldate wat ’n skrikbewind voer, nadat vele mense uitgesterf het in die Hongersnood vyf jaar tevore. Sy beland op die Karooplaas Swartfontein, ’n insekteelstasie wat kos aan die honger oorlewendes voorsien. Sy leer die eienaar van die plaas, Finian, ken. Sivan, die omgewing se geneser, en Avabelle, bestuurder van die rekenaarstelsels en androïede op die plaas, word ook deel van Laela se dae. Hoe gaan die geheime wat hierdie drie mense wegsteek, Laela beïnvloed?
Meer vrae bly knaag; oor haar sending om haar pa se laaste versoek dat sy ’n kriokapsule uit sy navorsinglaboratorium in die veilige hande van ’n kollega besorg, oor haar ouers se sinnelose dood, oor haar vervreemde en gewetenlose suster Jessi. Wie kan sy vertrou? Haar lewe word bedreig toe ’n besoeker op Swartfontein opdaag, en haar verdere reis neem haar na ’n vervalle Kaapstad en die strengbewaakte Sentrum vir Verlengde Bewussyn, waar weeskinders en bedelaars aan breinoplaai-eksperimente blootgestel word in die naam van wetenskaplike vooruitgang. Is die Genmodregering die enigste bedreiging, of skuil daar meer agter die mure van die Sentrum? Wys enige iemand óóit hulle ware kleure?
Tafelberg, 2023